Huishoudelike versekering in Suid-Afrika.

Huishoudelike versekering in Suid-Afrika

Laat gesegdes soos "moenie met vuur speel nie" en "kry die wind van voor" jou in 'n koue-sweet uitslaan? Jy het gemoedsrus nodig; jy het huishoudelike versekering nodig.

Die alledaagse realiteit is dat jou huis en jou besittings finansiële beskerming nodig het teen enige skade wat mag voorkom. Of jy gemotiveer word om huishoudelike versekering te kry om jouself teen natuurrampe, inbrake of ongelukke te beskerm, maak seker jy word nie onkant betrap nie.

Indien jy bietjie meer in diepte op huishoudelike versekering ingaan kan jy dit hoofsaaklik in twee kategorieë verdeel, naamlik huiseienaarsversekering en huisinhoudsversekering. Huiseienaarsversekering beskerm jou teen verlies en skade aan die fisiese strukture van jou huis. Privaat residensiële strukture kan byvoorbeeld teen storms, brand, wind en water, ensovoorts verseker word. Die hele huis, insluitende jou swembad, tennisbane, buitegeboue, motorhuise, opritte, mure, heinings en enige ander permanente strukture kan onder hierdie tipe versekering gedek word. Versekeringsdekking sluit hoofsaaklik die koste om die huis te herstel of oor te bou indien dit beskadig sou raak.

Huisinhoudsversekering

'n Huis is egter nie 'n tuiste sonder inhoud nie - daarom sluit huishoudelike versekering ook huisinhoudsversekering in, wat gewoonlik alle losstaande items binne en rondom die huis dek. Wanneer jy aansoek doen om huisinhoudsversekering ontvang jy 'n inventaris om te voltooi waarop jy moet bereken wat die totale waarde van jou huisinhoud is om dit te verseker. Items wat hieronder gedek word sluit meubels, matte, gordyne, televisie, radio, kombuistoerusting, ornamente, persoonlike besittings, klere, rekenaars, ens in. Huisinhoudsversekering kan dus gesien word as alles wat in jou huis is wat jy sal verwyder indien jy sou verhuis.

Huisinhoudsversekering kan òf op 'n standaardbasis òf op toevallige skade-basis verseker word. Standaard dekking sal jou items op 'n nuut-vir-oud basis vervang, byvoorbeeld die beskadigde item waarvoor geëis word, sal teen vandag se waarde vervang word, sonder aftrekkings vir slytasie. Wanneer jy jou huisinhoud verseker moet jy dus dit in gedagte hou wanneer jy jou vervangingswaarde bereken. Toevallige ongeluk dekking sluit standaard dekking in sowel as addisionele dekking vir ongelukke soos byvoorbeeld indien jy jou R3000.00 horlosie teen die muur sou krap, of om olie op 'n antieke tapyt te mors.

Jou huis is waar jou hart is - sowel as al jou kosbare besittings. Daarom is huisinhoudsversekering 'n baie gespesialiseerde veld, wat enige moontlike kategorie en item dek, gespesifiseerd en ongespesifiseerd (die verskil hang af van die items se waarde), persoonlike besittings-versekering vir huurders, persoonlike besittings-versekering vir studente, hoë waarde huisversekering, ens.

Nog iets om in gedagte te hou is dat sommige versekeraars 'n laer premie bied vir hoër sekuriteit, soos om byvoorbeeld aan te sluit by 'n goedgekeurde buurtwag, om 'n goedgekeurde alarmstelsel te installeer en goeie kwaliteit slotte.

So, wanneer jy weer teëspoed optel kan jy gemaklik agteroor sit en weet dat jy veilig is, verseker.